Vang die dief wat jou beroof van die Here se seën

‘n Storie oor die Arende en die Ratels….

(Kry hierdie storie aan die einde van die notas)

Inleiding:

Daar is een ding wat alle mense in gemeen het en dit is die begeerte om geseën te word.  Ek wonder baie keer of dit iets is wat Dawid uit dure ondervinding moes leer, voordat hy in Psalm 133 kon sê dat broers (used in the widest sense of literal relationship and methaphorical affinity or resemblance) wat geleer het om in vrede saam te woon, dit reggekry het om ‘n oop hemel te skep, wat dit vir die Here baie maklik maak om hulle oorvloedig te kan seën. 

Die Here wil baie graag Sy kinders op alle areas van hul lewens seën, want ons sien dat dit ‘n begeerte is wat Hy dwarsdeur die Bybel uitspreek. Sy begeertes vir ons is egter soos ‘n munt wat twee kante het, want Hy giet nie Sy seën op ons uit ten koste van die einddoel wat Hy vir ons in gedagte het. Sy einddoel is dat ons geslyp sal word, totdat ons uiteindelik ware demonstreerders is van Jesus se karakter en natuur.

Met die oog hierop glo ek dat die Heilige Gees vandag Sy verkyker vir ons wil leen, om dit te kan fokus op een van die grootste diewe wat ons van die Here se oorvloedige seën beroof, sodat ons hom kan vang en uit ons midde uit verwyder.

Teksvers:

Hebreërs 6:1:

Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid (perfection = completeness) voortgaan.

Gaan voort na die volmaaktheid:

Dit was nie sonder rede dat die skrywer van hierdie brief (wat heel waarskynlik Paulus was) die woord  “voortgaan” gebruik het nie, want hierdie spesifieke woord skets die prentjie van iemand wat deur ‘n krag, wat baie sterker is as hyself, vorentoe gedra word na ‘n plek van groter sterkte.  Die krag waarna hy verwys, is die Heilige Gees wat gestuur is om ons te help om al hoe meer in die sterkte en volwassenheid van Jesus se karakter en natuur in te groei.

Die tweede belangrikste woord wat hy in hierdie vers gebruik het, is die woord “volmaaktheid”. Dit impliseer die groeiproses van iemand wat by Graad 1 ingeskryf is en daarna elke standerd deurkom, totdat hy uiteindelik gematrikuleer het en gegroei het totdat hy ‘n goed aangepaste, emosioneel stabiele en verantwoordelike volwassene is, wat sy plek in die samelewing behoorlik kan volstaan.  

Net so is die Heilige Gees gestuur om ons te help, om deur al ons verskillende geestelike groeifases te gaan, totdat ons uiteindelik op daardie plek kom waar ons volwasse genoeg is, om die volmaaktheid van Christus se karakter en natuur te reflekteer. 

Paulus verwoord dit vir ons, deur te sê: Maar nou dat ek man is, het ek die gedagtes en reaksies van ‘n kind agtergelaat.

Efesiërs 4:13:

…totdat ons almal kom… tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 

Die mikpunt van vandag se woord is om na een spesifieke versoeking of metode te kyk, wat die duiwel gebruik om ons te verhinder om in die volwassenheid van Jesus se natuur in te groei en dit is ook hoe hy daarin slaag, om die Here se seën in ons lewens te blokkeer.

Kyk bietjie saam met die Heilige Gees deur Sy vergrootglas

Wanneer ons gedetermineerd is om ons eenheid onder mekaar te bewaak, raak ons vir die duiwel ‘n geweldige bedreiging, want dit is soos om 10 000 liggies styf teen mekaar te pak, wat dit onmoontlik maak vir die duisternis om ook teenwoordig te wees.

Juis daarom spits die satan hom daarop toe, om die eenheid te probeer verbreek wat ons as Jesus se liggaam onder mekaar moet hê. Dit is in die lig hiervan wat die Heilige Gees vandag vir ons een spesifieke gewoonte wil uitlig, waardeur die duiwel toegang kry en wat hom die wettige reg gee om ons te verarm t.o.v. die Here se seën.  

Dit is nie net ‘n gewoonte nie, maar ook ‘n dief en ‘n rower wat baie dieper en ernstiger implikasies het. omdat dit die Heilige Gees bedroef en uiteindelik Sy vuur in ons uitblus, as ons hierin volhard. Dit is tot ons nadeel want Sy vuur is vir ons gegee om ons te suiwer van die ou natuur se leefstyle en gewoontes.

Efesiërs 4:

22  Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.  24 …lewe as nuwe mense wat as die beeld [natuur] van God geskep is. 32 Wees goedgesind en hartlik [kind and tenderhearted] teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Juis omdat ons menslik is, het ons almal foute en tekortkominge en dit is juis hierin waar daar vir ons as een geestelike liggaam ‘n massiewe groei uitdaging is.  Dit is om konstant te kies om nie op mekaar se swakhede en tekortkominge te begin fokus nie, maar aan te hou om mekaar te vergewe en vry te spreek en in nederigheid mekaar se swakhede met die liefde te bedek.

Wanneer ons hierin begin faal en toegee aan die versoeking om ‘n “case” te begin bou met mekaar se foute en swakhede, gaan die duiwel dit baie beslis gebruik om ons al hoe verder weg te lei van ‘n oop hemel, wat beteken dat ons ook al hoe verder weg beweeg van die Here se seën in ons lewens.

Die plek waarnatoe dit ons gaan lei, is die plek waar ons na ‘n persoon/persone/groep kyk en besluit dat daardie persoon/persone/groep “useless” of ‘n “lost case” is.

SPREUKE 14:21 Wie sy naaste verag, doen sonde.

Om iemand te verag, beteken dat ek bewustelik of onbewustelik ‘n persoon evalueer en die deur toemaak vir die Here se krag en genade om daardie persoon volkome te kan transformeer.

Dit beteken ook dat ek besluit het dat hierdie persoon/persone/groep nie oor die potensiaal of karakter beskik om ‘n bydrae te lewer, of waarde toe te voeg en daarom het ek ook nie nodig om hom/haar/hulle te respekteer, want hy/sy/hulle verdien om geminag en geïnoreer te word. 

‘n Huis wat verdeeld is in homself:

Jesus het in Markus 3:25  gesê:  “…en as ‘n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie.”  (ook Matt.12:25). 

Wanneer ons onsself daaraan herinner dat die Bybel sê dat ons wat wedergebore is, die Here se huis is (Hebr.3:6 & I Tim.3:15), beteken dit dat ons as ‘n gemeente ‘n verdeelde huis is, as ons onsself daaraan skuldig maak om te dink, te sê, of te besluit dat iemand onder ons ‘n “lost case” of “useless” is. Dieselfde beginself geld ook vir ons gesinne, families, werksplek en ons land.

Wat die satan daardeur bereik, is dat die eenheid onder ons al hoe meer verbreek word en die oop hemel oor ons word al hoe meer ‘n toe hemel, omdat ons kies om onder die ou wet van oordeel te leef. Dit is hoe die satan dit regkry om ons te beroof van die Here se seën.

Ek sê nie dat ons oogklappe moet opsit, wanneer mense dit wat hulle vir die Here of Sy liggaam doen, halfhartig doen nie. Sulke gedrag moét in liefde en vergifnis aangespreek en reggestel word, sonder om af te dwaal na daardie plek waar ons mekaar begin afskryf en veroordeel.  

Hoe kan ons dit regstel?  

Dit is iets wat ons by Jesus kan afkyk.  Sy dissipels was ruwe vissermanne, met baie foute en tekortkominge, wat Hom baie keer teleurgestel, of in die steek gelaat het.

Wat het Hy gedoen om nie moed op te gee met hulle swakhede en hulle af te skryf as ‘n “lost case” of te besluit dat hulle “useless” is? 

Markus 10:27  Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Lukas 1:37  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Jesus was wys genoeg om nie Sy hoop en vertroue in die feilbaarheid van die menslike natuur en vermoëns te plaas nie.  Sy oë en verwagting was onverdeeld op Sy Vader gerig, vir Wie alle dinge moontlik is en dit is op Hom wat Hy gehoop en vertrou het om Sy dissipels en volgelinge stadig maar seker te transformeer.

Vang nou daai dief en kry hom agter slot en grendel, sodat die Here se seën weer in jou lewe kan begin vloei.

Eerstens moet ons vir die Heilige Gees vra om ons te herinner aan elke persoon/persone wie ons geoordeel het en uiteindelik afgeskryf het deur te sê dat hulle “useless” is, of ‘n “lost case”.

Tweedens moet ons die keuse maak om hulle te vergewe en vry te spreek en vir onsself vergifnis te kry by die Vader, omdat omdat ons deur te oordeel, gekies het om weer onder die ou wet van veroordeling te leef, in plaas van onder die nuwe geestelike wet van genade en vryspraak.

Derdens moet ons spesifiek vir Vader God vra om ons hiervan te reinig met die Bloed van Jesus, sodat ons weer in die Lig kan wandel, want sê in I Johannes 1:7 vir ons:

I Johannes 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

Vierdens moet ons net soos daardie elfjarige seuntjies in ons storie, weer een visie kry en dit is dat ons as Jesus se liggaam ‘n eenheid is, wat nie kan bekostig om mekaar te oordeel of af te skryf nie.

Vyfdens moet ons vir die Heilige Gees vra om ons dadelik daarop attent te maak as ons weer aan hierdie versoeking begin toegee, omdat ons die wag voor ons gedagtes en woorde op vakansie gestuur het.

Ons het konstant die Heilige Gees se hulp en krag nodig, om ons te help om volkome bokant ons ou natuur uit te groei. Dit is sodat ons al hoe meer onder ‘n oop hemel kan leef, om meer en meer van die Here se seën te kan geniet.

Dit is nie hoeveelheid Woordkennis wat ons het, wat die vrymaking, oorwinning en seën van die Here in ons lewens bring nie, maar die mate waartoe ons daaraan gehoorsaam is om dit te getrou doen, sodat dit al hoe meer ons nuwe leefstyl word.

Ekstra Skrifte vir verdere studie:

Jak.2:8; Lukas 10:25-27;   Kol.3:11-13;  I Kor.15:10;  I Kor.4:6-7; I Tim.1:12-17;  Matt.9:9-11; Rom.2:1

Storie van die Arende en die Ratels…

Wetenskaplikes het eendag twee groepe elfjariges na twee verskillende punte op ‘n groot plaas gestuur en hulle toegelaat om vir tydperk net saam te speel, avontuur te hê en mekaar te leer ken.  Na ‘n sekere tydperk het hulle vir die twee groepe elkeen ‘n naam gegee: die Arende en die Ratels, met T-hemde en pette waarop hul groep se naam gedruk was.

Nadat elke groep sy eie kultuur gevorm het, het hulle die twee groepe aan mekaar voorgestel en hulle teen mekaar laat meeding, met die belofte dat die span wat wen, 10 punte sal kry en dat daar ‘n groot beloning wag op die span wat uiteindelik die finale wenner is.

Die effek wat dit op hulle gehad het, was dat hulle baie antagonisties geraak het teenoor die ander span en alhoewel hulle almal goed opgevoede kinders met goeie maniere was, het hierdie kompetisiegees allerhande negatiewe gedragspatrone in hulle na vore gebring en hulle het hul bes probeer om die opponerende span op enige manier te benadeel.

Na ‘n bepaalde tyd het die organiseerders met hulle gepraat oor hoe goed en oulik die lede van die ander span eintlik is en daarna het hulle die spanne weer bymekaar gebring, in ‘n nie-kompeterende opset. Dit het egter geen positiewe uitwerking gehad op die vyandigheid wat tussen die twee groepe ontstaan het.

Die derde fase van die eksperiment was om gesamentlike doelwitte te skep, waar hulle onder andere moes saamwerk om albei spanne se bussie waarmee hulle vervoer is, vir ‘n hele ent te stoot.  Beide spanne se krag en samewerking was nodig om hierdie doelwit te bereik. Dit het die deurslag gegee en uiteindelik was daar iets wat tot eenheid en ‘n vriendelike spangees gelei het.

5 thoughts on “Vang die dief wat jou beroof van die Here se seën”

  1. Ja, dis duidelik dat kompetisie die groot bedreiging vir eenheid is. Trouens kompetisie en eenheid is teenoorgesteldes, soos vrees en liefde. Kompetisie dui op prestasie of om te streef na iets. Op sigself is dit goed INDIEN dit tydelik is en deur sukses beperk word. Wanneer dit egter voortduur en ‘n leefwyse word, dan word dit ‘n gees wat die presteerder gevange neem en isoleer. Die antwoord sou wees om almal op een standaard te kry, wat kompetisie onnodig sou maak. Die standaard moet egter nie die laagste een wees nie, maar eerder die hoogste. Is dit nie wat Chritus vir ons akmal kom doen het nie? Hy sterf sodat ons almal Sy lewe deelagtig kan word deur geloof, en so die standaard van seuns van God word. Wanneer ons besef dat ons hierdie standaard deur geloof HET en nie daarvoor te hoef kompeteer nie, dan word ons vry(uit die gevangenis van kompetisie) en kan die Heilige Gees, wat vryheid is, ons een maak. Daar is net een prestasie nodig, en dis om aan jouself te sterf. As dit ons enigste strewe word, is eenheid gewaarborg. God weet dit. Jesus weet dit. Vraag is hoe gaan mense dit weet?

      1. Dankie George. Die stimulasie wat ek uit elke preek kry, lê eintlik in my reflektering daarvan, omdat ek van nature ‘n dromer is. Die globale prentjie moet gestalte kry in my gemoed om die gees daarvan te vernuwe. Shalom.

    1. Baie dnki Herman dit is waar wat jy sê. Baie dnki vir jou insig.
      Elkeen van ons moet net ten doel hê (en vir die HEilige Gees vra om ons te help) om te ontdek wat ons funksie in die liggaam is,dan hoef ons nie téén mekaar te kompeteer nie, want om ‘n eenheid te wees, beteken dat elkeen se bydrae en funksie noodsaaklik is en as almal noodsaaklik is, hoef niemand te voel dat hulle moet kompeteer met die res, om waardevol of suksesvol te wees. Seën vir jou. Mariolize

      1. Ja Mariolze, die teenwoordigheid van die Heilige Gees is onontbeerlik vir eenheid in die liggaam van Christus. 2 Kor 3 : 17 sê waar die Gees is daar is vryheid. Die mate van vryheid by gemeentelede reflekteer dus die teenwoordigheid van die Heilige Gees en bepaal die eenheid in die liggaam van Christus. Die teenoorgestelde is noodwendig ook waar.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *