Judas Iskariot


Het jy al ooit jou naam op ‘n boom, ‘n muur of ‘n tafel uitgekrap?

‘n Paar jaar gelede het ek deur die dodeselle gaan stap, by die ou tronk in Oos-Londen. Dit was veral aangrypend om die boodskappe te lees, wat die veroordeeldes vir familie en vriende tydens die laaste paar dae van hul lewens op die mure uitgekrap het en ek het net weer eens besef dat elke mens iets het om te sê. Iets om na te laat vir die wat na ons kom. Ons kom later weer terug na hierdie gedagte.

Ons praat vandag oor Judas Iskariot. Vir baie was hy die vyand, die man wat Jesus vir dertig sikkels silwer verkoop het, vir ander was hy weer die man wie se lewe aan die einde van ‘n galgtou geëindig het, maar wie was hy werklik gewees?

Judas was een van daardie mense wat ‘n lewe van verlies gelei het. Dink net daaraan:

  • Hy het sy konneksie met Jesus verloor.
  • Hy het al sy vriendskappe met die dissipels verloor.
  • Hy het sy kontak en sy posisie in die gemeente van Christus verloor.
  • Hy het die voorreg om in die naam en met die krag van Jesus te bedien, verloor.
  • Hy het sy beloning in die hemel verloor.
  • Op die ou end het hy ook sy lewe verloor.

Hoe het Judas se reis verloop om op hierdie plek van verlies te beland?

Judas het geweier om te verander

1

Gedurende die drie jaar wat hy saam met Jesus en die dissipels rondbeweeg het, het hy gesien hoe blindes weer sien. Hy het ervaar hoe melaatses weer gesond word. Hy het in die vreugde gedeel van lammes wat, oorstelp van vreugde, op en af in die paadjies van die sinagoge gehardloop het. Met ander woorde hy was daar! Daar waar die dinge gebeur het.

Miskien is om op te daag en om te bly een van die eerste dinge wat ek en jy kan doen, om ons pad van verandering tegemoet te gaan.

Wanneer sal jy opdaag?

Ek sal opdaag wanneer dit die meeste saak maak.
Wanneer alles teen my tel en presedente wat geskep word, sê nee, moenie hier bly nie.
Daar sal ek wees.

Wanneer ek uitvind dat die regte pad die alleenpad is en ook wanneer oorwinning ‘n afgrond van ‘n miljoen meter diep is, of wanneer ek voor ‘n berg ‘n miljoen meter hoog staan.
Daar sal ek wees.

Wanneer hulle mislukking verwag en die verleentheid van my neerlaag vier.
Daar sal ek regop staan. Gereed…

Wanneer dit lyk asof daar geen weg uit is nie.
Wanneer my eie demone en vrese my uit die pad wil stoot.

Wanneer my sintuie sê vlug en die pad vorentoe met twyfel beklee is.
Daar sal ek wees.
Regop en gereed!

Is dit nie tragies dat Judas aan die begin daar was, maar nie aan die einde nie? Op die dag wat Jesus sy dissipels gekies het, sê hy ‘n baie vreemde ding:

Joh 6:70 Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ‘n duiwel!”

Die hartseerste was nie dat Judas aan die begin ‘n duiwel was nie, maar dat hy na drie jaar van wonderwerke steeds as ‘n duiwel opgeeindig het!

Iewers langs die pad het hy gekies om nie te verander nie. Het jy al daaraan gedink dat dit eenvoudig vir hom nie genoeg was om te wees waar Jesus was nie? Hy kon al die wonderwerke sien en tog het dit hom nie verander nie. Vir hom was om na Jesus se woorde te luister, te min. Hoekom?

Hy het nooit toegelaat dat dit wat hy hoor en sien hom verander nie. Verandering en groei begin altyd by ‘n keuse. Verandering gaan gewoonlik gepaard met pyn en Judas het telkemale pyn weerstaan en daarom het hy ook verandering weerstaan.

Judas wou vir Jesus iets gee, maar hy was nie bereid om alles te gee nie.

2

Op ‘n stadium, kort voor Jesus se kruisiging, kom daar ‘n vrou met ‘n albaster fles. Sy breek dit en terwyl die geur van die olie deur die vertrek versprei, giet sy dit as ‘n teken van aanbidding oor Jesus se voete uit.

Die fles was omtrent ‘n jaar se loon werd en saam met die ander kyk Judas met afkeur oor hierdie vermorsing.

Markus 14:4 Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie?

Judas was heeltemal okey daarmee dat sy iets gee, maar wat hom ontstel het, was dat sy alles gegee het. Onmiddellik kom hulle met die verskoning dat sy dit eerder vir die armes kon gegee het, na vore.

Verskonings klink die beste vir die wat dit opmaak…

Vreugde woon op die plek waar ons alles gee.

Judas het aanbidding vermorsing genoem

3

Het jy ook al heimlik in ‘n kerkdiens gewonder: Is dit nou werklik nodig dat ek my hande klap? Het ek nou nodig om my hande op te lig? Is dit dan werklik nodig dat offers altyd deel van aanbidding uitmaak?

Dawid, die vader van aanbidding in die Bybel, merk die volgende op:

Psalm 47:2 Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met ‘n jubelende stem.

Klap, juig en jubel was sinoniem vir die koning van aanbidding.

Job maak op sy beurt weer die konneksie tussen aanbidding en geestelike gesag wanneer hy sê:

Job 27:23 Die wind klap sy hande van blydskap terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.”

Alle energie en tyd wat aan aanbidding gewy word, word in geestelike outoriteit omskep wanneer ons dit met ons hele hart doen!

Judas het Jesus geken, maar Hom nie leer ken nie

4

Met die laaste maaltyd voor Sy kruisiging maak Jesus Sy planne aan Sy dissipels bekend.

Mat 26:21 Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”
Mat 26:22 Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?

Die woord “Here” wat die dissipels hier gebruik, is die woord “kurios” wat beteken: Die outoriteit wat my gedagtes vol maak.

Kom ons lees verder:

Mattheus 26:25 Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die titel “Rabbi” wat Judas gebruik het, was weer die offisiële titel van eer wat in daardie dae gebruik was.

Judas het al die byeenkomste wat Jesus gehou het bygewoon. Hy was selfs by die finansiering daarvan betrokke, hy het Hom gerespekteer, maar hy het Hom nooit leer ken nie.

Judas het nie die Here se tydsberekening verstaan nie

5

Tot op daardie punt het Judas nie besef dat Jesus gekruisig gaan word nie, sy hoop was steeds op die Koning van die Jode om ‘n revolusie te begin en die Romeinse regering tot ‘n einde te bring.

Baie van die Bybel geleerdes glo vandag dat Judas nie agter geld aan was, toe hy die ooreenkoms om Jesus vir dertig sikkels silwer oor te gee, met die priesters aangegaan het nie. Hy het dit per slot van rekening na die tyd weer teruggegee.

Hy wou Jesus dwing om met sy revolusie te begin. Hy het geglo dat indien hy Jesus sou oorgee, Jesus geen ander keuse sou gehad het om Homself te verset nie. Wat hy beplan het, sou ‘n katalisator wees vir ‘n nuwe era vir Israel.

Selfs Petrus het ingespring en ‘n soldaat met ‘n swaard aangeval en sy oor afgekap.

Daar word gemeen dat Judas nooit regtig geglo het dat Jesus gearresteer kan word nie.

Net so kan ons ook nooit vir die Here ‘n ultimatum stel om by ons beplanning te bly nie. Ons kan nooit die besluit neem om dinge in ons hande te neem wanneer die Here talm nie.

Dit is hoekom ons geloof moet hê. Geloof is juis die buffer tussen die nou en dit wat kom…

Judas leer ons: Wanneer Jesus oor jou pad kom. Gryp Hom!

6

Mattheus 26:48 Die verraaier het met die manne ‘n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!”

Weet jy dat Jesus jou nooit sal los, wanneer jy Hom aangryp nie? Die oomblik toe die soldate Jesus gryp, het die verlossingsplan begin. Net so begin jou verlossingsplan wanneer jy Hom aangryp.

Moet nooit toelaat dat enige iets jou uit Sy greep losskud nie. Ons betaal ‘n geweldige prys wanneer ons laat los.

Lukas 11:24 Wanneer ‘n onrein gees uit ‘n mens uitgaan….
Lukas 11:26 Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so ‘n man slegter daaraan toe as aan die begin.”

Let your tears water the seeds of your future happiness.

Indien jy nie jou opdrag uitvoer nie, sal die Here iemand anders gebruik

7

Ons weet almal dat Judas die silwer teruggegee het en homself toe gaan ophang het.

Handelinge 1:24  En die gelowiges het gebid: … wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het 

Handelinge 1:25  om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.” 

Handelinge 1:26  Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel. 

In die hemel het die muur van die nuwe Jerusalem twaalf fondamente en op elke fondament verskyn die naam van een van die Apostels:

Openbaring 21:14 Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam.

Stel jou voor dat jy eendag langs daardie muur af stap en na die name van al jou geestelike helde op die fondamente kyk. Later kom jy by die fondament waarop die naam met so ‘n skuins streep doodgetrek is en daar onder staan Matthias geskrywe…

Ons het begin deur te sê dat almal een of ander tyd hulle naam op iets uitgekerf het. Elkeen van ons wil iets nalaat, elkeen wil iewers ‘n verskil maak. Is jy gereed om te begin? Is jy gereed om alles te gee?

2 thoughts on “Judas Iskariot”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *