Ratsheid in die krisis

Ratsheid in die krisis

Sade van geloof is altyd in ons, tog kos dit somtyds ‘n krisis om hulle te laat ontkiem. – Onbekend

Hoe kry ‘n mens jou ratsheid terug na ‘n krisis?

Daar is ‘n geheim: Verstaan vrug. Ek weet dit klink nou baie abstrak, maar laat my toe om te verduidelik…

Ons is geskep met ‘n fontein van geluk in ons en hierdie fontein gaan oop wanneer ons vervulling ervaar. Daarom leer die Here heel eerste vir Adam en Eva hoe om vrug te dra. Kom ons lees:

Gen 1:28 2020 Afr. vert.) God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar vermeerder, (Vermeerder beteken: oorvloed, vergroot jou gesag, blink uit, trek die aandag), vul die aarde en onderwerp dit. (Onderwerp beteken Jy is die hoogste gesag in jou omstandighede) Heers (Neem verantwoordelikheid sonder ‘n slawe mentaliteit) oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.

Dink bietjie hieroor: Dit was die eerste keer wat Adam en Eva plante en diere gesien het.

Ek kan my indink hoe verbaas hulle was toe hulle daardie eerste perske byt en die pit in die middel teëkom…

In die middel van elke vrug is daar ‘n saad, die plek waar die DNA van die volgende vrug wag.

Hulle baie belangrike opdrag was dus onder andere: PAS DIE SAAD OP! Want jy sien, vrugte kan nie hulle self reproduseer nie.

Baie, baie generasies later kyk die Here na jou en sê: Wees vrugbaar!

Die eerste wenk: Om vrug te dra is nooit moeilik nie, want die saad is reeds in jou hart. Ek weet jy wonder hoe nou? maar gee kans ek verduidelik…

In jou dra jy iets wat die res van jou lewe kan verander. Jou enigste verantwoordelikheid is om die regte klimaat te skep waarin hierdie saad in jou kan ontkiem. Wanneer ons die wette van die Koninkryk verstaan en uitleef word daardie groei-klimaat in ons harte geskep.

Jy sien elke saad dra in hom die potensiaal vir groei en vir meer. Elkeen leef met die besef dat hy of sy bedoel is vir meer as wat nou reeds ervaar word.

Ja George, maar ek het altyd een of ander tekort wat maak dat ek nie vorentoe kan gaan nie. Wel ek het vir jou ‘n teë vraag:

Is jou, te min, dalk ‘n saad?

Eendag leer Jesus Sy dissipels hoe om te bid en Hy bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Brood groei nie aan bome nie. Die maak van brood is ‘n hele proses. Eers moet jy genoeg saad bymekaar maak, dit maal en dan ‘n brood bak.

Jy bid dalk vir ‘n brood en ontvang ‘n saad! Gewoonlik is ons eerste reaksie: Nee dis te min en in elk geval die waarvoor ek gebid het nie.

Die resultaat: Ons kyk die saad wat ons ontvang het, mis!

Jy bid dalk vir ‘n koninkryks hart maar dan ontvang jy ‘n krisis?? Die Here wil jou help om eers die proses van groei in gesag te ontdek. Heerskappy oor omstandighede begin altyd met die saad.

2 Kor 9:10 (2020 Afr. vert.) En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. 11 So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees…

Hier lees ons ‘n nuwe woord raak wat ons ook iets van saad leer: Die woordjie Vrygewig…

Elke saad het ‘n natuurlike en bo-natuurlike natuur. Vrygewigheid gee momentum aan beide nature…

Die Natuurlike kant van saad:(Dit wat ek kan doen) Daag ons uit om te wag en te waag…

Bo-natuurlik: (Dit wat net die Here kan doen) Bring die hand van die Here in beweging…

Myles Munroe – In every seed there is a forest…

Jou saad bevat jou toekoms, maar wat is die saad in jou dan?

Die saad in jou hart is die idees en planne wat die Here deurgaans in jou hart saai.

Die volgende stap is om toe te laat dat jou idees geleenthede raak.

Wanneer word jou idees geleenthede? Idees word geleenthede wanneer hulle een of ander probleem vir jouself of iemand anders oplos.

Hierdie proses wat van idees geleenthede maak is ‘n preek op sy eie, maar kom ek gee solank vir jou stap een:

Stap een: Raak ontslae van jou self-beperkende gedagtes…

Het jy al daaraan gedink: Bedelaars hardloop daagliks uit voorsiening uit want hulle het ‘n onvermoë om hulle saad te plant en bewerk…

Saad verg kreatiwiteit: Die beste atmosfeer vir kreatiwiteit is ‘n krisis. (Mits die krisis jou nie verlam nie.)

Laat toe dat die krisisse jou motiveer om te verander. Krisisse bring ook die stem van die Here in fokus.

Kom ons praat bietjie oor jou toekoms.

Die sleutel van ‘n mooi toekoms is om jou saad te ontwikkel, te dien en te doen

Wanneer jou saad groei en jy vrug sien is vervulling op die horison.

Hoe hartseer is dit wanneer mense nie die saad in die krisis kan raaksien nie? Baie van ons maak ons oë toe wanneer die krisis opdaag…

Toe oë kan nie nuwe innoverende idees raaksien nie en dan word die saad uit ons harte en gedagtes gesteel! Onthou jy is in beheer van jou saad.

Jer 30:2 So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ‘n boek.

Daar is ‘n Hebreeuse woord vir skryf met ‘n baie interessante betekenis. Dit word nie in hierdie vers gebruik nie, maar dit is die woord Schamec…

Vir elke Hebreeuse woord is daar ook ‘n prentjie wat aan daardie woord gekoppel word. Die prentjie vir Schamec is ‘n stok met ‘n mik wat onder ‘n tak ingesteek is om die tak te ondersteun wanneer die vrug aan die tak te swaar word.

Ons gedagtes koppel aan mekaar soos die takke van ‘n boom. Wanneer jy hierdie saad (jou idees en planne) neerskryf, ondersteun jy jou gedagtes om later vrug te kan dra.

Wanneer jy jou saad nie verloor nie en die regte atmosfeer skep sal dit van self begin uitspruit en vrug dra.

Waar en hoe begin ek?

Begin altyd met wat jy het. Dink terug aan Moses by die brandende bos en toe hy die Here vra hoe hy die Jode uit Egipte sal kan lei vra die Here: Wat het jy in jou hand? Die res is geskiedenis, maar selfs Moses moes begin met wat hy het, en sy bietjie het op die ou end baie wonderwerke gedoen.

Jesus het brood vermeerder, maar saad vermeerder self? Die wêreld het jou saad nodig, maar dit moet in die vorm van ‘n vrug kom…

Gen 1:28 God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar…

Ontdek die saad in jou hart, skep ‘n koninkryks atmosfeer en jy sal die vervulling van ‘n baie vrugtevolle lewe geniet…

Volgende keer meer…

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *