Skuil in die storm…

Hand.27:20  Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.

Ons storie begin vandag met Paulus, waar hy homself gelyktydig in die middel van ‘n reuse fout en ‘n wonderwerk bevind. Hulle skip was besig om te sink, omdat die matrose nie na hom wou luister nie, maar in die middel van dit alles belowe die Here tog ‘n wonderwerk.

Wanneer ons lewens so deur ander mense se foute omring word, vergeet ons soms hoe wonderwerke voel. Ons voel soos verloorders, want ons kan nie meer die wenpaal raaksien nie. Op daardie oomblik wat ons, ons visie verloor, verloor ons ook skielik alle hoop.

Net toe die situasie op sy donkerste lyk, praat die Here met Paulus:

Hand.27:21  Nadat hulle ‘n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê:  “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. (22)  Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. (23) Verlede nag het daar ‘n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. (24)  Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’

In plein Afrikaans sê die engel vir Paulus: Ontspan, jy sal nie in hierdie storm sterf nie, want daar wag nog ‘n groter “storm” vir jou by die keiser… Dit is interessant dat die engel in die middel van ‘n storm, dadelik Paulus se fokus na nog ‘n groter uitdaging verskuif. Het jy geweet dat dit goed gaan met die familie en vriende van manne en vroue wat hulle oë op die Here se groot uitdagings vir hulle lewens hou?

Wat was die rede vir die storm?

Paulus moes baie gefrustreerd gewees het, want hier beland hy onskuldig in die middel van die storm – ‘n storm waarteen hy die matrose gewaarsku het.

Dit is so deel van menswees om gedurig redes te soek, vir al die storms wat ons lewens tref. Daardie woordjie hoekom… Ons bid vir redes, soek gerusstelling daarin en wonder dag en nag oor hoekom ‘n spesifieke storm oor ons pad gekom het.

In Paulus se geval was die rede vir die storm die matrose se swak besluite. Net soos vandag, het die mense van die ou tyd ook dae lank gewonder en gefilosofeer of hulle storms van die Here, of van die duiwel af gekom het.

Ek en jy kan maar ophou wonder oor die oorsprong van ons storms, want die Here gebruik selfs die mense rondom ons se swak besluite, om ons by ons bestemming uit te kry. Dink maar aan Josef en die besluit van sy broers, om hom in die put te gooi…

Hoekom is redes gevaarlik?

Wanneer ons vashaak by die rede, mis ons dikwels die openbaring wat die Here vir ons wil gee. Die Here wil nie vir ons redes vir Sy optrede gee nie.  Hy hoef mos nie Homself die heeldag aan ons te verduidelik   nie, want Hy stel baie meer daarin belang om vir ons ‘n openbaring te gee – ‘n openbaring oor Sy planne en liefde vir ons.

Die Here se doel met Paulus was steeds in plek, selfs al het die skip gesink.

Openbaring is sterker as rede

Redes oorwin nie die gedagtes wat die duiwel in ons hart plant nie. Wanneer dinge moeilik gaan, het ons het nodig om terug te gaan na die plek waar die Here vir ons gewys het wie Hy is! Dit is daardie plek waar jy ‘n openbaring van Sy weë en Sy liefde ontvang het.

Jesus skep ‘n situasie

Tydens Jesus se bediening op aarde, het die mense Hom as die geneesheer geken. Toe hulle hom laat weet dat Lasarus siek is, talm Hy eers ‘n paar dae, voordat hy gaan en intussen het Lasarus gesterf. Hoor wat sê Jesus daarvan:

Joh.11:14  Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15  en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo.

Hy skep ‘n situasie waarin die wat Hom volg, ‘n openbaring kan kry dat Hy nie net kan genees nie, maar dat Hy ook mag oor die dood het!

Hierdie openbaring is die fondament van ons geloof – dat ons ook eendag deur Sy krag uit die dood gaan opstaan en vir ewig lewe.

Malta

Hand.28:1  Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is.

Die naam Malta beteken skuilplek. Genade voorkom nie noodwendig die gevolge van ons besluite nie, maar dit verseker vir ons ‘n veilige “landingsplek” in die storms wat ons tref.

Hand.28:2  Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons…

Die woordjie wat in die Grieks vir “mense” in hierdie vers gebruik word, is die woordjie “bar-bar-os”, of barbare in Afrikaans. Letterlik beteken dit “iemand wat nie ons taal praat nie”.

In ons land ondervind ons presies dieselfde. Daar is allerhande mense wat nie ons kulturele, emosionele, of morele taal praat nie. Soms raak ons passievol gefrustreerd met hierdie situasie, maar op Malta skep die Here ‘n atmosfeer waar mense met verskille ‘n seën vir mekaar kan wees. Wanneer ons verstaan wat op Malta gebeur het, kan ons ook deel in so ‘n atmosfeer in hierdie mooi land wat die Here vir ons gegee het.

Waar is jou Malta?.

Malta is die seisoen in jou lewe wat jy nie beplan het nie. Dit kan daardie afdanking wees wat jy nie gesien kom het nie. Dalk is dit daardie verhouding wat skielik skeef geloop het, of dalk ‘n skielike depressie wat jy nooit verwag het nie. Malta is die plek waar jy na trauma in jou lewe beland het. Kyk wat gebeur op hierdie eiland:

Hand.28:3  Paulus het ‘n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ‘n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt.

Onthou dat Paulus nie ‘n gevangene was, omdat hy ‘n krimineel was nie.  Hy was gevangene geneem omdat hy die evangelie verkondig het. Hy was ook nie ‘n drenkeling omdat hy buite die Here se wil was nie, maar omdat die matrose nie na sy goeie raad wou luister nie. Hy beland  koud en nat op Malta en ten spyte daarvan help hy steeds om vuur te maak; hy hou aan om goed te doen. Toe pik ‘n slang hom…

Toe pik die slang…

Hand.28:4  Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man moet beslis ‘n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.”

Hand.28:5  Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie.

Let wel: Paulus skrik nie vir die slang nie en hy reageer ook nie op facebook nie… Hy skud eenvoudig die slang af en gaan aan om te help met die vuur.

Dalk identifiseer jy vandag met Paulus. Iewers was jy ook besig om goed te doen en toe pik die slang… Nou soek jy ‘n rede, of ‘n persoon om kwalik te neem. Dalk moet jy dit net afskud. Paulus het verstaan dat daar sekere dinge is wat mens moet afskud, voordat dit in jou sisteem wortel skiet.

Ons was nog besig met die reaksie van die mense…

Die reaksie van die mense

Onthou dat mense altyd na redes soek vir alles wat verkeerd loop, want dit laat hulle veilig voel.

Hand.28:6  Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle ‘n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is ‘n god.

Eers verdink die mense hom, omdat daar iets in sy lewe skeefgeloop het. Hulle sê selfs dat die Here teen hom moet wees. Toe daar niks gebeur nadat die slang hom gepik het, dink hulle weer hy is ‘n god.

Moet jouself nie te veel aan mense steur nie, want daar sal altyd mense  wees wat verbaas is dat jy toe nie onder gegaan het nie. Dieselfde mense wat vir Jesus hosanna toegeroep het, het hom ‘n paar dae later gekruisig. Onthou mense soek vir redes, nie vir die openbaring van Sy grootheid nie…

Die mense meet Paulus se geestelikheid aan wat hom oorgekom het, want hulle verstaan nie dat geloof nie altyd keer dat die skip sink, of die slang byt nie, maar dit laat jou altyd na die tyd weer op jou voete land.

Is jy op Malta?

Op Malta moes Paulus ‘n besluit neem: Mislukking of missie?

Partykeer tref teëspoed ons, maar geloof verander teëspoed in geleenthede!

Op die strand van Malta vra ons die vraag: Hoekom is daar storms?

Hand.28:7  Daar was ‘n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ‘n man met die naam Publius, behoort het. (8) Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. 

Is dit nie treffend nie? Dieselfde hand wat deur die slang gepik was, was die hand wat die wonderwerk gedoen het. ‘n Goeie wenk om ons roeping te ontdek, is om te kyk waar die duiwel ons in die verlede aangeval het en hoe ons hom ons oorwin het…

Hand.28:9  Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak.

Aan die begin van ons storie het Paulus ‘n Malta in sy lewe nodig gehad, nou het Malta hom nodig.

Op Malta vind jy jou doel en roeping

Op Malta verander gif in gawes, foute in wonderwerke en storms in missies.

Op Malta ontdek jy jou voorsiening

Hand.28:10  Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het.

Enige groot roeping kos ‘n prys, maar jou voorsiening is altyd in jou roeping

Slot

Dit waardeur jy is, maak jou wie jy vandag  is, sodat jy kan wys wie Hy is…

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *