Die Jesus wat ek nooit geken het nie. Deel een.

Die vakansie het ek myself verwonder aan al die simbole oor Kersfees wat op die kerskaartjies verskyn.

Een was die van ‘n groot Afrika leeu wat liefderyk met sy poot om die skouers van ‘n lammetjie sit.

Dit het my laat wonder: Wie was Jesus regtig? Gee die media aan ons die regte prentjie?

Wanneer ek my media brille afhaal en begin om dieper tussen die lyne van die vier Evangelies in die Bybel lees, raak ek bewus van ‘n heel ander prentjie…

‘n Prentjie wat my gedagtegang onderbreek en my die vraag laat vra: Wie is hierdie Jesus wat ek nooit geken het nie? Wat het ek al die jare gemis?

Anders al al die ouers wat trots met hulle splinter nuwe babas kon spog moes Josef en Maria skande trotseer. Baie keer moes hulle maar maak asof hulle die spot in die oë van familie en vriende nie raak sien nie.

Soms het ‘n vriendin bekommerd vir Maria gevra: “Glo jy regtig ‘n engel het aan jou verskyn?”.

Sy oom Sagaria vat die kern van wat hierdie seun se roeping so mooi raak in Luk 1: 73

…sodat ons, gered uit die hand van ons vyande,

Hom sonder vrees sou dien…

Tog het hy nie die proses of pyn verstaan wat sou kom nie.

Op die trappe van die Tempel kyk die profetiese oë van Simeon heelwat dieper toe hy sê:

Luk 2:34 Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, 35sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.

In Kontras met al die kerskaartjies sou Christus se koms nie lewe op aarde eenvoudiger en makliker kom maak nie…

Met tasbare bekommernis in haar stem was Maria se eerste vraag aan die Engel: Maar ek is dan ‘n maagd?

In ‘n Gemeenskap waar sy vir ‘n buite egtelike kind summier gestenig kon word, kon sy stil bly oor die engel se boodskap, maar ‘n swangerskap kon sy nie vir lank wegsteek nie.

Haar enigste anker, Josef maak in die geheim planne om van haar te skei, eerder as om haar van hierdie buite egtelike daad te beskuldig, maar ‘n engel help hom reg.

Maria wend haar na die enigste persoon wat sou verstaan. Haar tannie, Elisabeth.

Sy glo Maria, maar die situasie onderstreep die kontras tussen die twee vroue. Die hele gemeenskap praat oor die wonderwerk dat Elisabet kon swanger raak.

Terwyl Elisabet trots kon wees oor haar swangerskap moes Maria haar wonderwerk wegsteek om die skande van haar gemeenskap weg te steek.

Die geboorte van Johannes vind plaas met baie fanfare tussen vroedvroue en familie, Jesus word ver van die huis in ‘n stal gebore!

Dink aan die onsekerheid en twyfel in daardie twee jong ouers se gemoedere terwyl hulle al hierdie skande moes verdra.

Nege maande van ongemaklike gesprekke en verduidelikings.

Die Vader reel die mees vernederende omstandighede vir Sy Seun, die Messias se geboorte!

On daardie tyd was buite egtelike kinders met misnoeë hanteer, dink aan die omgewing waarin Jesus moes groot word.

Dit is so maklik om die boodskap te mis…

As Jesus die Vader moes kom openbaar wat leer ons van ons Vader uit die gebeure rondom daardie geboorte?

Vier woorde: Nederig, toeganklik en dapper.

Nederig

In daardie tyd was geen heidense God nederig nie!

Ons God moes Homself baie klein maak om in ons konteks in te pas.

Dink daaraan: “n God wat groot genoeg is om klein genoeg te wees vir jou en my.

Fil 2:7

…maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,

deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem

en aan mense gelyk te word.

En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,

8 het Hy Homself verneder…

Anders as die afgode het Hy ‘n ander heerlikheid gedra, die heerlikheid van nederigheid.

Ons Koning kom stil, baie stil die wêreld in, net so stil kom Hy vandag nog ons omstandighede binne…

Vir ‘n oomblik verlig die Hemel en ‘n Engele koor sing, maar nie voor die parlement nie, in die veld vir ‘n paar herders.

‘n Klomp “nobodies” sien die wonder van sy koms in volle glorie.

Mense wat nie eers in die binnekant van die Tempel kon ingaan nie…

Hanteer jou gemeenskap jou soos ‘n “nobody”?

Toeganklik

In daardie dae was vrees dié primêre emosie waarmee gode genader was.

Die Jode het vrees en aanbidding met mekaar geassosieer.

God moes ‘n manier vind om nader te kom sonder dat mense die mantel van vrees aan trek.

Vrees maak nes in harte wat aan hulle self onmoontlike standaarde stel.

Net soos vissies in ‘n vistenk wegskarrel wanneer die hand nader kom om hulle kos te gee het die mense van die ou tyd ook geen kapasiteit gehad om God se goedheid te begryp nie.

Ons Koning is vereer deur wyse manne uit die ooste wat deur die kerk van die tyd as onrein beskou was.

Soms is ons so besig om op ons eie onreinheid te fokus dat ons nie eers meer oor ‘n gemoed wat eer aan die Koning kan bring beskik nie!

Dapper

Matt 13:54 Toe Jesus in sy tuisdorp aankom, het Hy hulle in hulle sinagoge geleer, sodat hulle verstom was en gesê het: “Waar kom hy aan hierdie wysheid en kragtige dade? 55 Is hy dan nie die seun van die skrynwerker nie? Staan sy moeder nie bekend as Maria en sy broers as Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En woon sy susters dan nie almal hier onder ons nie? Waar kom hy dan aan al hierdie dinge?” 57 En hulle het aan Hom aanstoot geneem.

Sy eie mense het Hom skepties gegroet vanuit die hoogte!

Dink aan die eerste nag in Bethlehem. Dink aan die hart van die Vader. Hy kyk af en Sy Seun, die Koning van konings le in ‘n vuil krip…

Ons geloof het met dapperheid geplant in nederigheid begin.

Die vraag wat oor bly: Hoe lyk die harte wat hierdie Koning kan liefhê en volg?

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *