Die gewig van ‘n siel

Ons leef in ‘n wêreld waar ons meet en gemeet word. Ons kan al die spoed van lig meet, Ons weet hoe vêr Jupiter is en hoe groot ‘n atoom is, maar wat is die gewig van ‘n siel?

Koning Nebukadneser sien ‘n hand wat op die muur skryf:

Dan 5:25  En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. – :27  u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;

Eendag lank, lank gelede toe ek nog op laerskool was het ek in Dewetsdorp se stof strate van die skool af huis toe gestap. Ek het altyd kort pad oor die handelshuis se stoep gevat en daar het ek vir Stoffel raak geloop. Een van ons skool se berugte boelies.

Hy het voor my kom staan, ek kon sy warm asem op my voorkop voel, ver in die agtergrond kon ek hoor hoe ‘n wit bakkie verby ry. Tyd het stil gestaan terwyl ek wag…

Die volgende oomblik land sy plat hand op my wang met ‘n geweld wat my knieë laat knak en my ore laat sing. Met my gesig net bo die grond hoor ek hoe die gruis kraak onder sy skoene terwyl hy rustig weg stap…

Ek het geweet dat ek niks gedoen het om dit te verdien nie. Wat kon die rede wees? In my jong gemoed was die enigste verklaring: As dit nie my optrede was nie, moet die fout wees by wie ek is.

Geweeg en te lig bevind…

Ons leef in ‘n wêreld waar ons meet en gemeet word. Hoe kon ek anders as om myself te meet?

My reaksie

My refleks was die volgende: ‘n Kleiner wêreld is ‘n veiliger wêreld…

Wanneer ons siel te min weeg in ons eie oë is, maak ons onbewustelik ons eie wêreld kleiner.

Die probleem met ‘n kleiner wêreld is dat die fontein van geluk ook kleiner word. Ons voel vervuld soos wat ons toegang kry tot meer en meer van ons potensiaal.

Wat gebeur met ons wanneer ons onder ons potensiaal lewe?

Adam en Eva maak ‘n fout en in een split sekonde verander hulle verhouding met die Vader.

Gen 3:9  Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?

Hulle het uit die gesigsveld van die Here verdwyn…

In die Hebreeuse kultuur was die aangesig van die Here ‘n teken van Sy seën.

Gen 3:10  En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

Mense wat onder hulle potensiaal leef:

  • Mik vir gemak in stede van groei, dit maak hulle opsies minder en steel daagliks van hulle vryheid.
  • Vermei risiko’s en uitdagings as gevolg van vrees en self-twyfel.
  • Hulle voel vasgevang in oorlewing, ongemotiveerd en angstig.
  • Diep binne weet elkeen hy of sy is bedoel vir meer.

Wat gebeur wanneer lae verwagtinge kultuur vir ons word?

  • Spyt skiet wortel in ons gedagtes. Ons kyk terug en begin vra: Wat as?
  • Wanneer spyt ons oorweldig verloor die wêreld vir ons kleur en geur.
  • Spyt groei tot bitterheid, want iemand moet die skuld kry.
  • Bitter mense raak apaties, hulle verloor entoesiasme. (en = In, Theos = God)

Voordat ons praat oor God se oplossing kom ons definieer eers genade:

Genade

Wanneer God opdaag in ons situasie.

Hy stuur Sy Seun

Ons het netnou gewonder oor die gewig van ons siel.

Ons het ook gesê dat elkeen homself iewers geweeg het en te lig bevind het.

Die eerste Adam is kaal en kruip weg…

Diep binne is daar in elkeen van ons ‘n Adam of Eva wat kaal voel en weg kruip…

Toe die eerste druppel bloed van Jesus in die stof op Golgota val… Die oomblik toe sy skouers saggies sak en Hy Sy laaste asem uit blaas… Toe Sy ken sy bors tref, toe raak die volgende vers ‘n werklikheid:

1Kor15:45  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees!

Ek en jy hoef ons self nooit weer te bekommer oor die gewig van ons siel nie want ons het nou ‘n lewendmakende Gees in ons!

In Hebreeus beteken Lewendmakend (zoopoieo)

  • Om nuwe lewe, energie en sterkte te gee.
  • Iemand wat oorborrel van vitaliteit, aktiwiteit en lewe.
  • Om die oorspronklike waarde te herstel.

Kom ons bring dit grond toe

Ek weet jy voel soms moedeloos.

Ek verstaan elke dag se druk op jou skouers.

Ek weet hoe jy party keer bloed sweet en hoe moedeloos en woedend jy vir jou self kan raak.

Ek kan die weerklank van beledigings en teleurstellings in jou hart hoor eggo.

Ons het netnou gesê: Genade is wanneer God opdaag in ons omstandighede.

Adam maak ‘n fout…

God maak ‘n plan…

Sy Seun daag op in die wêreld!

Vir die eerste keer in die geskiedenis daag ons skepper op in ons omstandighede!

Hy kom van vêr na naby!

Elke keer as Moses by die tent van samekoms in gegaan het, het die wolkkolom afgekom tot by die ingang van die tent.

‘n Tent is ‘n tipe in die Bybel van ons liggaam. ‘n Tydelike woning…

Die Heilige Gees wil vandag by jou tentwoning opdaag!

Hy wil jou skande wegneem en jou wêreld weer groot maak.

Kan jy dit sien en kan jy dit weer glo?

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *