Waar word ‘n toekoms gebore

Tema: Die dag waarvoor ons leef

970 Jaar voor Christus sit ‘n ou man en skryf met bewende hande op ‘n splinter nuwe perkament. Hy het lank nagedink oor wat hy sou neer pen. Hy frons liggies toe hy ‘n lang Veerpen in die ink doop en die oortollige ink saggies afskud want in sy hart weet hy dat hierdie woorde geslagte lank gaan eggo.

Teen die tyd het hy meer as 25 000 keer die son sien opkom, hy het die voorreg gehad om die glans van liefde in ‘n vrou se oë te sien en het ook gekyk hoe die glans van lewe uit die oë van ‘n man verdwyn wanneer hy met ‘n bebloede swaard oor hom getoring het op die slagveld.

Hoe kan ek 25 000 dagbreke se lesse neerpen, wonder hy?

Hy begin:

Ps 23:1 Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

Hy dink terug aan die jare toe hy nog as ‘n jong skaap herder in die veld tussen die skape geleef het. Kan hy ooit daardie beeld, die kyk van afhanklikheid in die oë van ‘n skaap wat saggies teen hom kom stamp het, vergeet?

Daardie oë waarvoor hy sy lewe teen die leeu en die beer sou waag…

Sy gedagtes hardloop heen en weer tussen 25 000 dagbreke en hy wonder: Waar het die dapperheid van daardie dae vandaan gekom?

Elkeen van ons het daardie platvorm van sekuriteit nodig. Ons wil elk die sterk hand van die Herder op ons voel. Elkeen van ons streef na daardie dag waar niks ons sal ontbreek nie, maar is dit nie slegs wanneer ons daardie hand voel wat die lewe net sin maak nie?

Dapperheid word nie in ons sterkte gebore nie, maar in afhanklikheid.

Hy doop die pen weer en skryf verder:

Ps 23:2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy onthou nog hoe lekker sorgvry het hy op sy rug in die winterson daar langs die spruit gelê en kyk hoe die wolke verby dryf. Daar het hy gelê en droom oor sy toekoms… Het hierdie 25 000 dagbreke nie sy wildste verwagtinge oortref nie?

Ons toekoms word daar langs die spruit gebore, dink hy…

Dae wat tel word gebore vanuit oomblikke van vrede in ons hart.

Goeie Besluite gee nie noodwendig vrede nie, maar word in vrede gebore.

Sonder storms wat in ons woed dink ons helder en maak maklik beter keuses.

Eeue na Dawid het ‘n ander man die volgende woorde geskryf:

Kol 3:15  En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.  3:16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon en wysheid bring.

Vanoggend het ChatGPT geskryf?

Peace in the heart transforms a person’s faith, emotions, decisions, health, relationships, and purpose. It is a gift from God that allows people to live without fear, full of joy, and in alignment with His will.

Sy hand hou op bewe en met nuwe energie en lewenskrag skryf hy verder:

Ps 23:3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Hy dink weer terug aan die groot reus wat eens voor hom gestaan het. Hy voel weer die opwinding toe hy daar in Krit die gladde klippies uitgesoek het. Hoe vêr hy moes loop om goeie klippe tussen al daardie sandsteen te kry. Daardie slingervel was darem ‘n goeie plan… mymer hy…

Hy lees weer wat hy sopas geskryf het, sy oë haak vas by: Hy lei my in die spore van geregtigheid…

Strategie verslind spanning…

Die grootste spanning kom vanuit ‘n onseker gemoed. Wanneer ons nie meer planne vir situasies het nie is spanning en vrees ons voorland.

Strategie bring:

  1. Helderheid en fokus.
  2. Skep ‘n gevoel van beheer oor omstandighede.
  3. Skep ‘n kalm kreatiewe gemoed.
  4. Sit ‘n proses van probleem oplossing aan die gang.
  5. Bou selfvertroue gebore uit God-vertroue.

Skielik word die groef tussen sy oë dieper as hy dink aan daardie donker, donker dae. Hy skryf:

Ps 23:4 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Hy kan weer die snikke deur sy lyf voel toe hy hoor dat Sy seun, Absalom dood is. Hoeveel keer het hy nie gewroeg oor Joab wat daardie drie spiese wat hy deur die hart wat hy so lief gehad het, gesteek het nie?

Op ‘n klein stukkie perkament skryf hy haastig, voordat sy moed hom begewe die volgende woorde:

1Kon 2:5  En jy weet ook self wat Joab… my aangedoen het… 2:6  Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die doderyk laat neerdaal nie.

Hy wonder: Hoekom het die Here dit toegelaat?

Elkeen van ons het ń dal in ons lewe nodig want daar ontdek jy jou potensiaal en Sy nabyheid.

In die smeltkroese van die lewe motiveer die druk en hitte van omstandighede ons soms om dapper stappe te neem.

‘n Glimlag begin speel om die Koning se mond en hy skryf met nuwe geesdrif:

Ps 23:5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Dawid dink: Selfs wanneer my vyande my omsingel het, het die Koning van konings vir my gesorg… Inteendeel in die tye wat dit gelyk het asof my vyande die oorhand gaan kry, het hy my opnuut gesalf. Hy het nooit in my rol getwyfel nie, al het ek gewonder asof ek ooit anderkant gaan uitkom…

In Dawid se tyd was gasvryheid ‘n heilige saak. Wanneer die gasheer jou soos ‘n koning wou laat voel het hy opdrag gegee dat sy slawe jou beker vol maak totdat dit oorloop.

Omstandighede het nie die reg om die oorvloed van die Koning van jou af weg te hou nie.

Dawid kry ‘n hartseer trek op sy gesig en hy dink:

Die lewe is net ‘n gedagte. Een oogknip en my tyd hier op die aarde is om…

Dan sluit hy af:

Ps 23:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Net in Hebreeus word gespel: ‘ak – Dit beteken hier word ‘n beperking geplaas…

God het die volgende beperking in plek gestel:

In ENIGE omstandigheid is daar altyd saad van hoop en genade.

Hoop beteken daar is ‘n pad na die beker wat oorloop…

Genade beteken: God daag op in ons omstandighede…

‘n Duisend jaar later praat die Engel met Maria:

Luk 1:31  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.  Luk 1:32  Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,  Luk 1:33  en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *