Oorgee is nie opgee nie…


Onthou jy nog toe ons op skool was, was die klas amper nooit stil nie, behalwe wanneer ons toets geskryf het. Die onderwyser het almal doodstil gemaak. Selfs die onderwyser was stil…

Die onderwyser is stil terwyl die toets geskryf word…

Voel jy soms die stem van die Here is stil?

[Spanning]
Die moeilikste spanning, is die spanning waaroor ons geen beheer het nie…

Ek onthou nog die dag soos gister toe ek in die dokter se spreekkamer vir daardie toets uitslae gewag het. Die vorige nag het ek nie ‘n oog toe gemaak nie. My gedagtes het gemaal totdat die ergste, ‘n realiteit, geraak het.

Toe die goeie nuus uiteindelik kom, was ek so gespanne dat ek nie eers verlig kon voel nie…

Soms ervaar ons spanning wat ons nie eers kan illumineer, ignoreer of verander nie.

[Die enigste oplossing:]
Gee oor!
Ons het geen ander opsie as om aan die Here in daardie situasie oor te gee nie.

As jy my persoonlikheid het kom oorgee baie moeilik want my brein verwar oorgee en opgee met mekaar.

Toe ons klein was het ons cowboys en crooks gespeel, dan het ons, ons plastiek pistool onder iemand se neus gedruk en gesê: Hands up!

In die tyd toe Dr. Livingstone (1813-73) deur Afrika gereis het moes hy verbonde met baie plaaslike stamme tref om homself te beskerm. Hulle het die gebruik gehad om vir elke verbond ‘n sny in die pols te maak en dit met swart houtskool in te vryf sodat dit ‘n permanente merk op die pols los.
Wanneer hy bedreig was het hy sy hande in die lug gesteek en onmiddellik kon die vyand sien hoeveel verbonde het hy met stamme in die omgewing gehad.

Sy oorgee was nie opgee nie, maar in die oorgee het hy staat gemaak op al die verbonde wat hy gehad het.

[Waar begin spannings verligting?]
Dit gebeur wanneer jy: God laat God wees…
Wanneer jy staat maak op jou verbond met Hom.
Wanneer jy sê: Ek gee beheer oor want u kan die dinge verander waaroor ek geen beheer het nie.

Ps46:1 1 God is vir ons ’n skuilplek (macha-seh > ‘n Plek waar ek nuwe hoop kan vind) en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

:10 Wees stil (raw-faw > Maak die toue slapper) en erken dat Ek God is; Ek is verhewe oor die nasies, verhewe oor die aarde!

[Twee uiterstes]
Party van ons begin om dinge krampagtig te beheer wanneer ons onveilig en onsekuur voel.
Ons sê: Ek sal die ding maak werk.
Wanneer ons spartel is ons nie effektief nie.
Sonder vrede werk die planne wat ons maak eenvoudig nie.

Die ander groep gee uit desperaatheid op.
Ons kruip in ons dop, skakel die TV aan en haal die sjokolade uit…
Almal haat my, niemand het my lief nie en ek gaan wurms eet…
Dan raak ons slagoffers.

Nie een van die twee ekstreme werk nie.

[Die stappe]
Stap 1:
Gee beheer oor.
Onthou oorgee is nie opgee nie…
Oorgee beteken jy maak staat op jou verbond…
Wys jou merke vir jou vyande…
Dit is die kere waar die Here jou reeds gered het.
Om swak te wees kos ‘n spesiale sterkte.

Stap 2:
Leer om dankbaar en tevrede te wees.
Dit is die sleutel tot innerlike vrede.
Dankbaarheid beteken nie ek is nou ‘n masochis in moeilike omstandighede nie.
Dit is ‘n fokus skuif.
Ek begin om te fokus op wat ek het.
Fil 4:11 …want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. 
Fil 4:12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 

Hoor wat gebeur wanneer ons vergenoeg is:
Fil 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. 

Stap 3:
Lê my planne voor Sy voete.
Probleme saboteer planne.
Dan vra ons wat is God se wil?
God wil: Hy wil Sy krag in ons lewe vertoon.
Wat is die geheim: Leer om onselfsugtig te wees.
Skuif die fokus van My na Hy.

Luk 16:13  Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. 

God gee nie om vir geld nie, hy het mense lief…

Jesus sluit sy gebed af met: Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied.

M.a.w. Laat die toekoms aan die Here oor…
Leef dus vir vandag…

Dan kan jy jou hande oplig sodat die vyand jou verbond kan sien…

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *