Die ontplooiing van die COVID-19-entstowwe in Suid Afrika is met beide opgewondenheid en skeptisisme ontmoet. Aan die een kant is daar ‘n verwagting dat die entstowwe ‘n einde sal maak aan die verwoesting wat deur die pandemie veroorsaak word en aan die ander kant is daar twyfel in die effektiwiteit en nagevolge van die entstof. Die gesprekke oor die gebruik of weiering van die COVID-19 inenting word oor die algemeen gekenmerk deur verwarring en vrees eerder as feite.

Hierdie dokument poog om ons as Christene, te help om ‘n ingeligte en weldeurdagte besluit te neem oor die COVID-19 entstof. As volgelinge van Jesus, word ons deur die groot skriftelike verbond daartoe verbind om God lief te hê met alles en ons naaste soos onsself. Aangesien alle kwessies rakende COVID-19 nie net ‘n impak het op onsself nie, maar ook ons naaste se welsyn direk raak, moet ons die kwessie van immunisering ernstig in oorweging neem.

Dit is daarom belangrik dat ons die mediese feite, ons spesifieke situasie en ons geloofsoortuigings deeglik bedink voordat ons ‘n besluit neem. Ewe belangrik moet ons die bronne en akkuraatheid van alle inligting wat ons gebruik, deeglik verifieer ten einde ‘n kwaliteit en ingeligte keuse te kan maak.

Dit is ons bede dat hierdie dokument in die vorm van uitdagende vrae, U sal help om besluite te neem wat U self en ander om U, lief te hê, te koester en te beskerm.

Die feite

Wat is die Korona-virus en Covid-19 nou eintlik?

Koronavirusse is ‘n groot familie van virusse wat siektes by diere en mense kan veroorsaak en die nuutste variant word die Sars-CoV-2 koronavirus genoem.

Covid-19 is ’n hoogs aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die Sars-CoV-2 koronavirus. Tot en met 19 April 2021 meer as 141 miljoen gevalle van COVID-19—veroorsaak deur die SARS-CoV-2 infeksie — is wereldwyd gerapporteer, insluitend meer as 3 miljoen sterftes. Hierdie virus en siekte het vir die eerste keer aan die mensdom bekend geword nadat dit in Desember 2019 in die stad Wuhan, in China, uitgebreek het. (Johns Hopkins, 2021)

Wat is die simptome van Covid-19?

Die algemeenste simptome van Covid-19 is koors, moegheid en ’n droë hoes. Pasiënte kan ook pyn, ’n toe- of loopneus, ’n seer keel of diarree hê. Hierdie simptome is gewoonlik lig en begin geleidelik.

Sommige mense tel die virus op, maar toon geen simptome nie en voel ook nie sleg nie. Die meeste mense (80%) herstel van die siekte sonder enige spesiale behandeling. Sowat een uit elke ses mense wat Covid-19 opdoen, word ernstig siek daarvan en kan asemhalingsprobleme ervaar. Ouer mense en diegene met onderliggende mediese probleme soos hoë bloeddruk, hartprobleme of suikersiekte is meer geneig om ernstig siek te word.

Mense wat aanhoudend koors het, hoes en sukkel om asem te haal moet mediese hulp soek. (Marx, 2020)

Hoe versprei dit?

Die siekte versprei deur middel van besmette druppeltjies van liggaamsvloeistof wat van een persoon aan ‘n ander persoon oorgedra word. (National Institutes of Health, USA, 2021)

Dr. Kerrin Begg, spesialis in openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit Stellenbosch verduidelik dit aan die hand van hoe blinkertjies versprei. “Stel jou voor die virus is goue blinkertjies. Jy raak aan goue blinkertjies en dit sit vas aan jou hande. Oral waar jy vat, of dit aan jou gesig of oppervlakke is – daar sit die blinkertjies. Iemand anders kom verby en vat waar jy gevat het. Nou is daar blinkertjies op daardie persoon se vingers. Daardie persoon raak weer aan iets of iemand anders . . .” Dit geld selfs as jy handskoene en ’n masker dra. “As jy met ’n handskoen aan goue blinkertjies vat, sit dit steeds aan die handskoen vas . . .” (Marx, 2020)

Kan jy aansteek by iemand wat geen simptome toon nie?

Alhoewel die WGO aanvanklik volgehou het dat die risiko vir sodanige verspreiding “baie laag” was, het verskeie studies getoon dat jy wel by iemand wat geen simptome het nie kan aansteek. Onder andere ’n studie, wat op 24 Januarie in die Lancet-vaktydskrif gepubliseer is, ’n gevallestudie wat op 30 Januarie in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, en ’n meer onlangse studie wat op Maandag 16 Maart in die vaktydskrif Emerging Infectious Diseases gepubliseer is. (Marx, 2020)

Hoe lank is die inkubasietydperk vir Covid-19?

Die sogenaamde inkubasietydperk is die tyd tussen die punt waar die virus opgeneem word en die punt waar die persoon positief toets vir infeksie. Soos reeds verduidelik is daar nie noodwendig simptome nie, maar ander persone kan op hierdie stadium aangesteek word. Wetenskaplikes is dit eens dat die inkubasietydperk tot 14 dae kan wees, maar die gemiddeld in pasiente is vier tot vyf dae. (National Institutes of Health, USA, 2021)

Hoe kan ek verhoed dat ek Covid-19 aansteek?

Die risiko van SARS-CoV-2-oordrag kan verminder word deur enige hoes of nies te bedek en om ‘n afstand van minstens 1.5 meter van ander mense te handhaaf maw. sosiale distansiëring. Wanneer konsekwente distansiëring nie moontlik is nie, kan maskers die verspreiding van aansteeklike druppels van individue met SARS-CoV-2-infeksie na ander mense verminder. Deur hande gereeld te was word die risiko van infeksie ook effektief verminder. (National Institutes of Health, USA, 2021)

Hoe werk inentings?

Inenting is ‘n manier om mense teen skadelike infeksies te beskerm voordat hulle daarmee in aanraking kom. Dit gebruik u liggaam se natuurlike verdediging om weerstand teen spesifieke infeksies op te bou en maak u immuunstelsel sterker. Inentings bewerkstel dit op verskillende maniere. Die goedgekeurde entstowwe vir COVID-19 gee u liggaam ‘n bloudruk oor hoe om die virus wat COVID-19 veroorsaak, te bestry, sonder om jou enige hoeveelheid van die virus self te gee. As u dan in die toekoms aan die virus blootgestel word, kan u immuunstelsel dit vinnig vernietig voordat u te siek word. (National Institutes of Health, USA, 2021)

Hoe is die COVID-19-entstof getoets?

Die VSA regering het sedert die aanvang van die pandemie daaraan gewerk om ‘n COVID-19-entstof so spoedig moontlik beskikbaar te stel. Hierdie versnelde tydlyn is ongekend en het by sommige mense kommer ontlok dat veiligheid ten gunste van spoed opgeoffer kan word. Soos met alle entstowwe, is veiligheid egter ‘n topprioriteit. COVID-19-entstowwe is in streng beheerde kliniese toetse getoets om seker te maak dat dit aan veiligheidstandaarde voldoen en het meer as ‘n jaar geneem om te voltooi. Baie mense is gewerf om aan hierdie proewe deel te neem om te sien hoe die entstowwe beskerming bied aan mense van verskillende ouderdomme, rasse en etnisiteite, sowel as diegene met verskillende mediese toestande. Die twee tans goedgekeurde entstowwe is op 30 000 en 44 000 onderskeidelik getoets en die veiligheid van COVID-19-entstowwe word voortdurend gemonitor om seker te maak dat selfs baie seldsame newe-effekte geïdentifiseer en behandel word. (Collins, 2021)

Verdere toetse is ook gedoen en word aanhoudend gedoen in ander lande in die wereld, insluitend Suid Afrika, om seker te maak dat die inentings teen alle bekende variante effektief sal wees.

Hoe effektief is die huidige drie COVID-19-entstowwe?

In groot, beheerde proewe in die VSA, was die mRNA-1273 (Moderna) en BNT162b2 (Pfizer-BioNTech) entstowwe onderskeidelik 94% en 95% doeltreffend om simptomatiese COVID-19 in laboratoriumbevestiging te voorkom, nadat deelnemers ‘n tweedosisreeks voltooi het. Die Ad26.COV2.S (Johnson & Johnson / Janssen) entstof was 66% effektief om matige tot ernstige / kritieke laboratoriumbevestigde COVID-19 na ‘n enkele entstofdosis te voorkom. Al drie entstowwe het ook ‘n hoë effektiwiteit teenoor ernstige COVID-19 getoon. Plaaslike en sistemiese newe-effekte kom relatief algemeen by hierdie entstowwe voor, veral na die tweede dosis. Die meeste newe-effekte wat in entstofproewe voorgekom het, was matig (dit wil sê, dit het nie verhoed dat die persone daaglikse aktiwiteite doen nie). Daar is ‘n paar verslae van ernstige allergiese reaksies na SARS-CoV-2-inenting, waaronder verslae van pasiënte wat anafilakse ervaar het nadat hulle ‘n SARS-CoV-2-mRNA-entstof ontvang het. Veiligheidsdata word steeds versamel. Sekere bevolkings, soos swanger en lakterende individue, is nie by die aanvanklike inentingsproewe ingesluit nie. Die American College of Obstetricians and Gynecologists het tussentydse riglyne gepubliseer oor die gebruik van die SARS-CoV-2 mRNA-entstowwe by swanger en lakterende mense.

Dit is nie bekend hoe lank die beskermende effek van SARS-CoV-2-entstowwe sal duur nie en of SARS-CoV-2-entstowwe asimptomatiese infeksie of oordrag kan voorkom, of dit infeksie deur alle huidige of opkomende stamme van SARS-CoV-2 sal voorkom , of hulle effektief sal wees by pasiënte met immuunverswakking, en of hulle net so goed sal werk by pasiënte met ‘n hoë risiko vir ernstige COVID-19 as by diegene met ‘n lae risiko. Die doeltreffendheid en veiligheid van SARS-CoV-2-entstowwe is nie vasgestel by kinders, swanger mense of immuunonderdrukte pasiënte nie. Kliniese proewe vir ander SARS-CoV-2-entstofkandidate duur voort. (National Institutes of Health, USA, 2021)

Moet ons nie net die virus sy natuurlike loop laat van nature laat verloop nie? Is die entstof nie ‘n groter risiko nie?

Kudde-immuniteit word bereik wanneer groot persentasies van die bevolking immuun word vir ‘n siekte en daarom indirek diegene beskerm wat nie immuniteit het nie. Die persentasie mense wat immuun moet wees om kudde-immuniteit te bereik, verskil egter op grond van verskeie faktore, insluitend die oordragwyse en hoe maklik en vinnig ‘n siekte versprei. In die meeste gevalle word kudde-immuniteit nie bereik sonder ‘n effektiewe entstof nie. Vir COVID-19 word die persentasie van die bevolking wat besmet moet word om kudde-immuniteit te bereik, geraam op tussen 70% en 90%, en dit is met die aanname dat blywende immuniteit moontlik is. As immuniteit langdurig is, is dit waarskynlik dat meer as 42 miljoen Suid Afrikaners besmet moet word om kudde-immuniteit in Suid Afrika sonder ‘n entstof te bereik. Al is die sterftesyfers aan die laagste punt van die beramings, sou daar meer as 180 000 sterftes wees. Entstowwe sal help om kudde-immunitiet vinniger te bereik sonder enige sterftes.

Waar kan ek betroubare inligting bekom?

Hier is ‘n lys webwerwe vir diegene wat dieper in hierdie vrae wil delf:

Mis-informasie rakende COVID-19 inentings

Ons lewe in die inligtings-era waar massas inligting bykans onmiddelik beskikbaar is op enige onderwerp denkbaar. Dieselfde is ook waar vir covid-19 en daar word beweer dat tot 400 nuwe artikels rakende covid-19 op ‘n daaglikse basis bekend gemaak word. Maak dus asseblief seker dat U die integriteit van alle inligting deeglik nagaan VOOR U dit gebruik om lewensveranderende besluit te neem soos ‘n besluit oor die entstof. ‘n Paar maniere om dit te doen:

  1. Wie of wat is die bron van die inligting?
  2. Het die persoon of instansie ‘n versteekte agenda – soos dat mense hul op sosiale media moet volg? Vra hulle dat U moet “Like” en “Subscribe”.
  3. Is die feite wat die persoon aanhaal geakkrediteer en verifieerbaar?
  4. Is die persoon se opinie gebasseer op feite of spekulasie?
  5. Adverteer of verkoop die persoon of instansie iets?
  6. Bestaan die “tegnologie” enigsins wat die persoon spekuleer in die entstof is, of is dit net iets wat mense dink oor 50 jaar gaan bestaan?
  7. Is die persoon of instansie die eerste of enigste wat ‘n groot komplot ontbloot het, maar neem geen regs- of ander aksie nie?

Hier volg ‘n paar vrae wat se oorspong waarskynlik in mis-informasie gehad het:

Veroorsaak entstowwe outisme?

Sommige mense is bekommerd oor ‘n moontlike verband tussen entstowwe en outisme. Betroubare studies het egter getoon dat daar geen verband is tussen die ontvangs van entstowwe en die ontwikkeling van outisme nie. In 2011 het die Institute of Medicine in die VSA ‘n verslag oor agt entstowwe wat aan kinders en volwassenes gegee is bevind dat hierdie entstowwe, buiten enkele uitsonderings, baie veilig is.  ‘n CDC-studie uit 2013 het verder bygevoeg aan die navorsing wat toon dat entstowwe nie outisme veroorsaak nie. Die studie het gekyk na die aantal antigene (stowwe in entstowwe wat veroorsaak dat die immuunstelsel van die liggaam siektesbestrydende teenliggaampies produseer) uit entstowwe gedurende die eerste twee lewensjare. Die resultate het getoon dat die totale hoeveelheid antigene van entstowwe wat ontvang is dieselfde was tussen kinders met outisme en diegene wat nie outisme gehad het nie.

Bevat entstowwe geaborteerde fetale materiaal daarin?

Daar is tans geen entstowwe wat geskep word deur selle te gebruik wat direk uit die liggame van geaborteerde fetusse geneem is nie. Daar is egter ‘n paar entstowwe wat van sellyne afkomstig is, wat afkomstig is van weefsel wat uit die 1960’s van geaborteerde fetusse geneem is. Sedertdien is geen addisionele fetale selle geoes nie, maar die onderwerp is omstrede vanweë die oorspronklike bron.

Is dit moreel om hierdie weefsel te gebruik? As ‘n dokter sou aanbied om ‘n nier of hart van ‘n moordslagoffer oor te plant, sou ons waarskynlik nie daarteen beswaar maak nie. Niemand sou sê dat die persoon wat die orgaan ontvang het, moreel verantwoordelik was vir die moord nie.

Gebruik die regering die COVID-19-entstof om mense op te spoor?

Daar is vrees by sommige mense dat die COVID-19-entstof ‘n mikroskyfie sal insluit wat die regering in staat sal stel om u op te spoor, en selfs tot verpligte inentingsbevele sal lei. Die COVID-19-entstof self sal nooit enige soort mikroskyfie of opsporingstoestel bevat wat deur die regering geïmplementeer is nie. Daar is wel ‘n opsionele mikroskyfie vir die etikette van die COVID-19-inentingflessie, maar dit is nie deur Amerikaanse amptenare aangevra nie. As dit gebruik word, sal dit slegs inligting deel rakende wanneer en waar inspuitings plaasvind, as die dosis verval het of as dit vals is. Die etiket-mikroskyfie sal nie persoonlike inligting van die persoon wat die inenting ontvang, versamel nie en ook nie hul ligging opspoor nie.

Veroorsaak COVID-19-entstof steriliteit by vroue?

Sommige mense het besorgdheid uitgespreek dat die entstowwe onvrugbaarheid veroorsaak deur teenliggaampies te genereer wat nie net die koronavirus “spike”-proteïen teiken soos ontwerp nie, maar ook per ongeluk kan reageer met ‘n proteïen in die plasenta genaamd syncytin-1. Daar is tot dusver geen bewyse of verslae van onvrugbaarheid onder vroue wat van COVID-19 herstel het nie, ondanks die miljoene wat besmet is. Inteendeel, vroue het swanger geword na koronavirusinfeksie en inenting. Dit sluit ingeëntde vroue wat swanger geword het terwyl hulle aan kliniese toetse van die entstowwe deelgeneem het, in. Wetenskaplikes het serum van vroue met COVID-19 ontleed en geen reaksie tussen pasiënte se teenliggaampies en die syncytin-1 proteïen opgespoor nie.

Oorwegings in U besluit rondom die inenting

Ten einde die beste besluit te neem of U ingeent wil word al dan nie, moet U ten minste die volgende faktore in ag neem:

  1. U onderliggende mediese toestande;
    1. U ouderdom;
    1. U blootstelling aan mense in hoë risiko-groepe; en
    1. U blootstelling aan mense in die algemeen.

Die gesamentlike antwoorde op hierdie oorwegings behoort U by ‘n ingeligte en verantwoordelike besluit te bring.

Ons bespreek hierdie faktore kortliks:

  1. U onderliggende mediese toestande

Dit is alom bekend, dat persone met sekere onderliggende mediese toestande se risiko om ernstig siek te word of selfs te sterf indien hulle covid-19 sou kry, aansienlik hoër is as ander persone. Hierdie kondisies sluit in kanker, nier-disfunksie, long kondisies, dementia en ander neurologiese kondisies, diabetes, Down syndroom, hart kondisies, HIV, swak immuunstelsels, lewer kondisies, obesiteit, swangerskap, Sickle sel siekte, mense wat orgaan oorplantings gehad het, mense wat stemsel oorplantings ontvang het, beroerte ens. (CDC Centres for Disease Control and Prevention, 2021)

Indien U enige van hierdie onderliggende mediese toestande het, kontak asseblief U mediese praktisyn so spoedig moontlik rakende ‘n covid-19 inenting aangesien covid-19 moontlik dodelike gevolge vir U kan inhou.

  • U ouderdom

Kennis van die meer as 141 miljoen gevalle van COVID-19, toon dat die risiko van ernstige of fatale siekte van COVID-19 word hoër met ouderdom. Ouer persone is dus meer waarskynlik om gehospitaliseer te word, intensiewe sorg of ventilators te benodig, en selfs te sterf. Die risiko neem toe vir mense in hul 50’s en hou aan toeneem in hul 60’s, 70’s en 80’s. Mense 85 en ouer se risiko om ernstig siek te word aan covid-19 is die hoogste. (CDC Centres for Disease Control and Prevention, 2021)

  • U blootstelling aan mense in hoë risiko-groepe

Indien U as gevolg van U werk of waar U woon, gereelde blootstelling aan mense in die hoë risiko-groepe geniet, moet U die covid-19 inenting ernstig oorweeg. Indien hierdie persone covid-19 kry, is die kans dat hulle ernstig siek word of sterf, baie hoër as ander mense. Indien U dus die risiko van covid-19 vir Uself kan verminder, sal U ook hierdie persone se risiko verminder.

  • U blootstelling aan mense in die algemeen

Die hoeveelheid mense waaraan U op ‘n gereelde basis blootgestel word in U werk of omgewing, speel ook ‘n rol in U risiko om covid-19 te kry. Inenting teen covid-19 sal dus U en mense om U se risiko verminder.

Die covid-19 inenting en die kerk

Waarom is openbare gesondheid ‘n saak van Christelike dissipelskap?

Ons geloof en gehoorsaamheid aan Jesus in dissipelskap behels dat ons aan onsself sterf en die kruis opneem om Hom te volg. Ons word beveel om God lief te hê en ons naaste lief te hê soos onsself. Om ander mense lief te hê, kan baie dinge behels, maar die minimum vereiste behels dat ons hulle beste belang sal soek. Die beginsel van om die beste vir die samelewing te soek, kom neer op welwillendheid, liefde, omgee vir andere en die neerlê van persoonlike prioriteite in die diens van andere. Christene wat oor inentings oordink, moet hierdie belangrike Bybelse beginsel in hul besluitnemingsproses opweeg.

Wat is die algemene pastorale advies van Agapè Gemeente rakende die COVID-19-entstof?

Ons moedig lidmate aan om in oorleg met hulle dokter, die inenting sterk te oorweeg. In vroeëre pandemies het die kerk pastorale leiding gegee wat inentings aangemoedig het. Ons verstaan dat geen entstof heeltemal veilig is nie. As ons egter deur inenting andere teen siektes kan beskerm, het ons ‘n morele verpligting om, ingevolge die opdrag van ons Here om ons naaste lief te hê, ernstige oorweging daaraan moet skenk om ingeënt te word. Inentings beskerm nie net jouself nie, maar beskerm ook ander kwesbare lede van die samelewing. Wanneer die meerderheid van mense in ‘n gemeenskap ingeënt word, word mense met ‘n aangetaste immuniteit wat nie ingeënt kan word nie, ook beskerm. Die gesondes onder ons kan diegene wat meer kwesbaar is, help deur onsself te laat inent.

Dit bly egter ‘n individuele besluit wat elke persoon moet maak gegewe sy/haar eie omstandighede, mediese toestande, ouderdom en blootstelling en as kerk ondersteun en erken ons elke persoon se reg om hierdie besluit te neem.

Verwysings

CDC Centres for Disease Control and Prevention. (2021, June 9). Older Adults. Herwin van CDC Centres for Disease Control and Prevention: https://www.cdc.gov/coronavirus/2019-ncov/need-extra-precautions/older-adults.html

CDC Centres for Disease Control and Prevention. (2021, May 13). People with Certain Medical Conditions. Herwin van CDC Centres for Disease Control and Prevention: https://www.cdc.gov/coronavirus/2019-ncov/need-extra-precautions/people-with-medical-conditions.html

Collins, F. (2021, February 22). Director National Institutes of Health, USA. (T. S. Genetic Alliance, Onderhoudvoerder)

Johns Hopkins. (2021, March 15). COVID-19 dashboard by the Center for Science and Engineering. 2021. Herwin van Johns Hopkins: https://coronavirus.jhu.edu/map.html

Marx, J. (2020). Korona: Dit is wat jy moet weet. Herwin van Netwerk 24: https://projekte.netwerk24.com/koronavirus/#group-Die-feite-C8CIxaA4Zh

National Institute for Communicable Disease, What you Need to Know about Vaccines in General. https://www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/covid-19/what-you-need-to-know-about-vaccines-in-general/

National Institutes of Health, USA. (2021, April 21). Overview of COVID-19. Herwin van National Institutes of Health, USA: https://www.covid19treatmentguidelines.nih.gov/overview/overview-of-covid-19/

National Institutes of Health, USA. (2021, April 21). Prevention and Prophylaxis of SARS-CoV-2 Infection. Herwin van National Institutes of Health, USA: https://www.covid19treatmentguidelines.nih.gov/overview/prevention-of-sars-cov-2/