Liewe Gemeente


Tyd het die manier om ons so ongemerk te bekruip. Soms gryp dit jou van agter en gooi mens toe met nuwe realiteite en uitdaginge. Ander kere weer kom tyd ongemerk en verras ons stadig en sagkens met die beste wat die lewe het om te bied.


Vandag wil ek uit persoonlike ervaring gesels oor hoe tyd die laaste jaar die lewe se beste voor my deur kom aflaai het. 2020 die Covid jaar was vir ons almal ‘n jaar van verlies, verseker ‘n jaar wat niemand van ons graag sal wil herleef nie. Ons moes almal groet, leer om ingewikkelde keuses te maak en verstaan hoe om die stem van die Here in ‘n nuwe omgewing en era te hoor. Ons het 2021 met nuwe hoop binne gegaan, Covid vir ‘n volgende rondte aangevat en begin om ons lewens met hernude ywer te herbou. Dit was ook die jaar waarin die meeste van ons die Here se voorsiening soos nooit tevore ervaar het nie.
Persoonlik was ek tydens daardie tyd so gepreokkupeer met die behoeftes en herstel van ons gemeente na die storms van 2020 dat tyd vir my soos ‘n snel trein gevoel het, ek moet erken dat die lewe soms na een groot “blurr” gevoel het. Tog het ek heimlik gewonder of ek ooit weer daardie iemand langs my sy sal hê wat saam met my die voorreg kan deel om die hart van ons gemeente te dra en beskerm. Toe kom sy!


Tyd het haar so stadig en gemaklik in my lewe ingedra dat ek aanvanklik nie eers agter gekom het dat daar iets in my hart begin roer nie. Amper soos Elia wat nie die Here in die storm, die vuur of die aardbewing kon sien nie, maar in die sagte aand luggie, het die wil en teenwoordigheid van die Here my die keer met sagtheid en deernis bekruip. Skielik het die winter weer vir my soos lente begin voel…
Met versigtigheid het ek haar aan my vriende begin voorstel, hulle fyn dop gehou en maar net geglimlag toe ek die opgewondenheid in hulle oë sien.
Vandag het ek groot nuus: Die wat gereeld ons dienste bywoon weet reeds dat ons twee teen einde laas jaar besluit het om die knoop deur te haak en verloof geraak het, maar nou het ons ‘n trou datum! Op 25 Februarie 2022 breek ons groot dag aan. Haar naam is Charmaine Gibson, ‘n Fisioterapeut en hierdie sal haar eerste huwelik wees.


Ek dra steeds die belange van ons gemeente heel voor in my hart en is steeds uitverkoop aan die visie wat ons deel om die gemeente weer restoureer en herbou na die twee jaar van storms wat verby is. Diegene van ons wat tydens hierdie pandemie verhuis het ‘n hulle hemelse woning kyk met verwagting hoe ons hier onder, die bruid gereed maak vir die groot bruilof met ons Koning Jesus. Bid asseblief vir ons dat ons saam ‘n span sal wees wat ook ons klein rol in daardie groot prentjie suksesvol sal kan speel. Dat ons in staat sal wees om deurentyd die Here met ons hele hart te dien, mekaar lief te hê en elkeen in die sorg van die gemeente tot die beste van ons vermoë sal dien.


Bid vir ons vir genade en insig in hierdie tye sodat ons gemeente weer die sagte lig van die Agapé Liefde van ons Vader helder oor ons stad sal laat skyn.

Agape Liefde

George Steenkamp